Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Riette Rust

@ Sunday Times Books LIVE

Wat akademici oor ’n Lyf onthou te sê het

\'n Lyf onthouEk het onlangs ‘n resensie van ‘n Lyf onthou deur prof Louise Viljoen, verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, op hierdie blog geplaas. Vandag deel ek prof Willie Burger van die Universiteit van Pretoria se mening oor my kortverhaalbundel.

Burger, wat betrokke is by die beoordeling van byvoorbeeld die WA Hofmeyr-prys en die Groot Afrikaanse Romanwedstryd, het in Vrouekeur geskryf: “Riette Rust is ‘n besonder vaardige skrywer. Tydspronge en verandering van perspektief word baie knap aangewend om spanning te behou”. Die resensie het nie aanlyn verskyn nie en dus plaas ek ‘n knipsel daarvan hieronder.

Lees ook ‘n berig van ‘n praatjie oor resensies wat Viljoen onlangs by die WAT-kantoor op Stellenbosch gelewer het. Stephanie Nieuwoudt skryf in Die Burger: “Na aanleiding van die negatiewe resensies wat op haar positiewe resensie van Riette Rust se ‘n Lyf onthou gevolg het, sê Viljoen sy staan by haar resensie”.

Respek vir die boek wat jy resenseer is een van die voorvereistes vir die resensent en ook vir haarself as resensent, sê prof. Louise Viljoen, wat onlangs as gasspreker by die WAT se Woordpret-geleentheid opgetree het.

Sy het met dr. Willem Botha, uitvoerende direkteur van die WAT, gesels.

Viljoen sê die resensent moet redelik goed belese wees sodat die boek binne die regte genre beoordeel kan word. Voorts is die rol van die resensent om die boek te ontleed, te verduidelik en om uiteindelik ’n waarde-oordeel uit te spreek. Terselfdertyd moet die resensie vlot en onderhoudend geskryf word.

Boekbesonderhede

Prof Louise Viljoen resenseer ’n Lyf onthou

\'n Lyf onthouIn haar resensie van my kortverhaalbundel, ’n Lyf onthou, skryf prof Louise Viljoen: “’n Mens sou die skrywer ’n onreg aandoen as jy slegs fokus op die bundel se ondersoek na die lyf as seksuele instrument.” Lees die resensie:

Die publisiteit rondom Riette Rust se kortverhaalbundel ’n Lyf onthou lê veral klem op die avontuurlustigheid waarmee sy skryf oor seks.

Daar word ook gesê dat daar nog nie vantevore so openlik in Afrikaans oor hierdie onderwerp geskryf is nie, veral nie deur ’n vrou nie.

Boekbesonderhede

Luister na my lirieke vir die liedjie “Waar bly jy?” op Willie Strauss se CD, Seisoene

Dit was nog altyd my droom om lirieke te skryf. En ek het!

Die sanger Willie Strauss het my liedjie, “Waar bly jy?”, op sy nuwe CD, Seisoene, opgeneem. Die album sal binnekort verskyn.

Fanie Fouché het die musiek geskryf en die musikale genie Christa Steyn was die vervaardiger.

Luister na die liedjie:

As ek ’n karakter kon wees…

Ter viering van Wêreldboekedag gister het LitNet vir my gevra watter fiktiewe karakter ek graag sou wou wees:

\'n Lyf onthouEk het lank oor hierdie een gedink. Daar is egter net een eerlike antwoord: ek sou graag Carien wou wees. Sy verskyn in “Eer jou vader”, ’n verhaal in my eie bundel, ’n Lyf onthou. Nie omdat ek haar kinderjare sou wou hê nie – dis erg, erg traumaties om ’n alkoholverslaafde pa te hê – maar omdat ek Carien sal wil wees ná sy die trauma deurleef, oorleef en oorkom het. Dit maak jou sterk. In ’n ander verhaal, “Vanielje”, trou sy met ’n vervelige man. Vir hom sou ek ook nie wou hê nie. Want hy is een van die redes waarom sy sadomasochisme beproef. Dis iets wat my vreesbevange maak. Dalk vind ek tog só eerstehands uit wat iemand motiveer om dit wat ons as afwykend beskou, te ondersoek en uiteindelik te wíl beleef.

Carien se verhaal is nog nie voltooi nie. Ek sou graag, anders as sy, by die punt van vergifnis teenoor haar pa wou uitkom. Hóé, weet ek nie. Want hoe vergeef jy iemand wat jou kindwees gesteel het? Niemand kon vir Carien help nie. Nie haar ma se dominee nie. Nie haar sielkundige nie. Nie ’n spiritualis nie … Dink net watter ongelooflike toneel dit sou kon wees as Carien op ’n hoë ouderdom langs haar pa se graf staan en sê: “Pa, ek vergeef jou.”

Boekbesonderhede

Onderhoud met SARIE oor ’n Lyf onthou

\'n Lyf onthouPhyllis Green van SARIE het onlangs ’n onderhoud met my oor my kortverhaalbundel, ’n Lyf onthou, gevoer. Sy het onder meer gevra of ek enige voorbehoude gehad het om ’n boek met verhale oor seks te skryf en of ek baie navorsing gedoen het. Kyk ’n bietjie wat my antwoorde was:

Hoe het jy die navorsing vir jou verhale gedoen, want jy skryf met oortuiging oor S&M, affairs ens.?

Ek het gevallestudies onderneem, baie wyd oor die sielkunde agter baie vorme van seks gelees en my ore oopgehou vir wat mense doen of deurmaak. Hopelik gee ek ’n vars perspektief daarop – soos om te skryf uit die oogpunt van die derde party in ’n verhouding. Só ’n storie het ek nog nooit voorheen teëgekom nie. Jy soek nie noodwendig na liefde op die verkeerde plek nie. (Let wel, ek sê liefde, nie seks nie.) Maar, as jy dit dan wel daar vind, is dit baie swaar vir AL die betrokkenes. Vandaar my stories Yesterday, today, tomorrow en Queen of the rose garden. Daarmee sê ek nie dis moreel reg om ’n affair te hê nie.

My verhaal oor die seksuele mishandeling van ’n kind het weer in ’n kortverhaalklas (aangebied deur die skrywer Marlene van Niekerk) ontstaan. Ons moes elkeen vyf onverwante sinne uit ’n sak trek en ’n storie daaruit skep. Ek het vir jare met myne geworstel. Toe kom die tema van seksuele mishandeling onwillekeurig na vore. Ek voel verskriklik sterk daaroor dat kinders in elke opsig beskerm moet word teen die siek mense wat sulke dinge doen.

Boekbesonderhede

Kerneels Breytenbach lig sy hoed vir die verskuiwing van die seksuele horison in ’n Lyf onthou

\'n Lyf onthouKerneels Breytenbach het hierdie naweek in ‘n artikel in By besin oor die geskiedenis van seks in die Afrikaanse letterkunde.

Hy bekyk André Brink se Kennis van die aand, Etienne Leroux se Magersfontein O Magerfontein en Johann de Lange se Die hemel help ons, maar lig veral sy hoed vir Kleinboer se Kontrei, Brink se Voor ek vergeet en my eie kortverhaalbundel, ‘n Lyf onthou.

“Hulle het die seksuele horison verskuif vir Afrikaanse lesers sonder om terug te deins vir die nagloed,” skryf hy. Dankie Kerneels!

In 1985 het prof. F.I.J. van Rensburg van die Randse Afrikaanse Universiteit ’n boek, Pornografie, gepubliseer waarin hy beweer het dat die Afrikaner se seksuele register nie “byster breed” is nie. ’n Spyker was steeds iets wat ’n mens met ’n hamer in hout vasgekap het.

Pornografie was die neerslag van prof. Van Rensburg, ’n Afrikaanse letterkundige, se diepgaande studie oor die maniere waarop die Afrikaner se seksdrang sig op velerlei maniere veruiterlik het.

Dit is nie die eerste kompliment wat ‘n Lyf onthou van Kerneels ontvang het nie. In die volgende video gesels hy oor sy roman Piekniek by Hangklip (waarin onder meer tantriese sekstonele beskryf word), maar noem ook ‘n Lyf onthou, wat volgens hom “van die beste seks in Afrikaans” bevat.

Kyk die video:

YouTube Preview Image

Boekbesonderhede

Erotiek in Afrikaans: Kom kuier saam by Woordfees 2012 (’n Lyf onthou is amper hier!)

Ek is tog te trots op dié asembenemende omslagontwerp vir my kortverhaalbundel, ’n Lyf onthou, wat in Maart verskyn. Ek gaan oor ’n Lyf onthou en Lang bene & Lipstiek by vanjaar se Woordfees gesels. Sluit by my en Rapport-joernalis Marlene Malan aan vir ‘n gesprek oor erotiek in Afrikaans! Die kaartjies kos slegs R40 en kan by Computicket bespreek word. Hier volg die besonderhede:

Erotiek in Afrikaans – Kom kuier saam

Riette Rust se splinternuwe debuut-kortverhaalbundel, ’n Lyf onthou, word op die Woordfees, Stellenbosch bekend gestel. Kom kuier gerus saam in die (verkoelde) Boektent op 7 Maart om 17:00.

Rapport-joernalis Marlene Malan lei die (erotiese) bespreking. Riette se niefiksie boek, Lang bene & Lipstiek (Naledi) sal ook ter sprake kom.

7 Maart 17:00 | Boektent | 50 min | R40

Video: ’n Les in erotiese kapitaal uit Lang bene & Lipstiek

Ek het onlangs oor my boek, Lang bene & Lipstiek: Gebruik jou seksualiteit en behaal sukses, op die KykNET-program Kwêla gesels. Kyk die video:

Lang bene en lipstiek

Boekbesonderhede